Psalm 102
1. HEER, u goedheid is onendig;
hoor my as ek diep ellendig,
as ek in my krag verkort,
klag voor U soos water stort.
Hoor die hulproep van 'n lyer,
wil u aanskyn hom nie weier;
hoor in nood, en hoor my nou,
help my, HEER, ag, help my gou!
2. Net soos rook in stormevlae,
so verdwyn my droewe dae;
my gebeente is dor geskroei,
soos 'n vuurherd so deurgloei.
En soos plante in sonnelande,
welk ek by u sonnebrande;
in ellende't ek vergeet,
soos 'n kranke, om brood te eet.
3. Al my krag wil my begewe;
vlees voel 'k aan my beend're klewe
weens my benoude sug.
Eensaam voel ek, weggevlug
in woestyne soos die reier -
beeld van die verlate lyer;
soos 'n uil oor bouval heen
sit en tuur, so 's ek alleen.
4. Eensaam klaag ek deur die nagte,
soos 'n duif, my dowwe klagte.
Heeldag smaad die vyand my,
hoor ek in hul raserny
hou my naam, in my besoeking,
vloekwoord is by hul vervloeking.
As moet ek soos spyse eet,
tranedrank drink in my leed.
5. HEER, waar U my hoog laat word het,
maar in toorn my neergestort het,
is ek soos 'n plant wat kwyn,
en my dae - skaduskyn.
Maar U, HEER, U is onendig,
u gedagt'nis bly bestendig;
mensgeslagte gaan verby,
maar u roem sal ewig bly.
6. U sal opstaan tot beskerming,
Sion vind by U ontferming;
tyd van smart is eind'lik om,
dag van guns 't oplaas gekom.
En u knegte, in hul smarte,
dink met liefde in hul harte
aan die stad wat sonder lof
nog vergruis lê in die stof.
7. Volke en wie hier hoog in waarde
kroon en septer dra op aarde,
sal, wanneer God Sion bou,
vrees as hul sy mag aanskou;
daar Hy Hom, in hul ellende,
tot die armes heen wou wende
en nie hul versoek of klag
as onwaardig wou verag.
8. Watter skatte van genade
sal beskryf word op die blade
wat die nageslag sal lees!
Hul sal lofsing op hul fees;
want God het uit mededoë
op gevang'nis, neergeboë,
en op hul gekerm gelet,
"kinders van die dood" gered.
9. Dan sing hul Gods magvermoë
weer in Sion, opgetoë;
dan weerklink die vreugdestem
uit jou muur, Jerusalem!
as die volke, saam vergader,
oor die aardbreedte aan kom nader,
as die konings hulle buig
en Hom hul ontsag betuig.
10. Dis die beeld, vol soet behae,
van die ongebore dae.
Maar nou?... Hoe 't ek ingestort!
Hoe 's my lewenstyd verkort!
Toe sê ek, by soveel plae:
HEER, verkort tog nie my dae!
Ag, hoe kort is reeds my uur!
Maar u jare 't eewge duur.
11. HEER, die aarde en hemelboë
is die werk van u vermoë
Hul is saam, in hul verband,
kunswerk van u wyse hand.
Maar hul almal moet verderwe,
U alleen, U sal nie sterwe;
soos 'n kleed sal hul verslyt,
maar U bly in ewigheid.
12. HEER, in plaas van droef te klae
sien ons ongemete dae,
wanneer eind'lik kroos en kind
lewensvolheid by U vind.