Psalm 144
1. Geloofd sy God wat my in wank'le tyd
'n rotssteen is, my aangord tot die stryd;
wat tot die kryg my hande toeberei,
so goed is en 'n vestingwerk vir my;
wat my die skans tot redding wil verstrek,
by wie ek skuil, daar my sy skild oordek;
wat in die stryd my altyd trou bewaak
en nou my volk aan my gehoorsaam maak.
2. Wat is die mens, o HEER; wat sy geslag?
En wat is hy dat U op hom sou ag?
Soos skaduwees verswind sy lewenstyd:
en sy bestaan is enkel ydelheid.
Buig, HEER, die hoë hemel en daal af!
Strek uit u hand, tref berge met u straf,
dat rook kan opstyg uit hul ingewand,
en slinger neer van bo u hemelbrand!
3. Verwar, verstrooi my harde teenparty,
stuur uit u pyl en laat dit vir my stry.
Strek uit u hand van Hoë hemel neer
en hef my hoof uit wilde waters, HEER!
Verlos my uit 'n see van ramp en nood,
want vreemdes dreig my met 'n wisse dood.
Hul mond spreek leuens en hul regterhand
doen by hul eed die leuenwoord gestand.
4. O God, ek wil opnuut my dank U bring
en by die harp my psalmgesang U sing,
U wat aan Dawid die oorwinning gee
oor reuse-swaard, vir sy verderf gesmee.
Verlos my uit 'n see van ramp en nood,
want vreemdes dreig my met 'n wisse dood.
Hul mond spreek leuens en hul regterhand
doen by hul eed die leuenwoord gestand.
5. Dan sal ons seuns soos plante ons verheug:
hoog opgekweek en sterk wees in hul jeug;
ons dogters soos pilare, na die eis
gebeitel van 'n skone rotspaleis;
ons skure vol van voorraad ongeteld, ,
ons kleinvee talloos hupp'lend oor die veld,
ons beeste swaar gelaai; geen bres alom,
waar krygsgeskreeu ons stand kan binnekom.
6. Welsalig - dus hef ek my slotsang aan -
welsalig is die volk wie 't so mag gaan!
Welsalig hul wat by die groot genot
van volle heil, die HEER het tot hul God!