Psalm 147
1. Laat voor die HEER 'n lofsang rys!
Hoe goed is dit om God te prys!
Hoe lieflik on die lof te sing,
die lof wat ons aan Hom moet bring!
Want Hy wil ons in guns aanskou,
Hy wil Jerusalem herbou
en Isr'el wat verstrooid nog swerf,
versamel op die heil'ge erf.
2. Hy heel gebrokenes van hart,
en Hy verbind hul in hul smart.
Sy oë speur oneindig ver;
Hy tel en roep die laaste ster;
sy krag en kennis, ongemeet,
oorwelf al wat ons ken en weet.
Sagmoediges verhef Hy weer,
maar goddeloses werp Hy neer.
3. Sing daarom voor die HEER u dank,
psalmsing Hom by die siterklank!
Hom wat die lug met wolke oorsprei
en vir die aarde reen berei,
wat op die berge gras en kruid,
die voedsel vir die vee laat spruit,
die rawe-nes op milde wys
versorg, wanneer dit roep om spys.
4. Gods sterkte is nie soos mensemag
wat heil van oorlogsperde wag,
of van die bene, sterk gebou,
waarop die krygsman vas vertrou.
Maar hul alleen kan Hom behaag
wat needrig na sy sterkte vraag,
en, hoe dit ook mag teëloop,
Hom vrees en op sy goedheid hoop.
5. Laat nou jou stem, o Salem, rys!
O Sion, wil die HERE prys!
Hy dek jou dig vir slag en stoot,
versterk jou poorte teen die dood.
Hy seen jou kinders met jou mee
as Hy jou land die vrede gee.
Hy laat jou akkers wuiwend staan
en voed jou met die beste graan.
6. Hy stuur van bo sy koningswoord,
snel vlieg dit heen van oord tot oord.
Dit is die God van lug en weer
wat strooi soos wol sy sneeuvlok neer.
Natuur moet op sy wenke pas:
Hy strooi rondom sy ryp soos as,
die waters groei tot ysblok aan -
wie kan voor so 'n kou bestaan?
7. Hy stuur sy woord, sy wind - hul smelt,
die waters stroom weer oor die veld.
So laat hy guns op almal daal,
oor Isr'el het die wonderstraal
van waarheidskennis opgegaan;
so het Hy aan geen volk gedaan.
Hul ken sy ryksverordening;
hul moet uit dank sy grootheid sing!