Psalm 18
1. Ek het U hart'lik lief, o HEER!
U is my sterkte-en teëweer.
Die HEER 's my rots, my vesting stterk,
my redder wat my heil bewerk,
my rots wanneer die stormwind huil,
my skild, die weerkrag van my heil,
my vesting op die bergkrans steil,
by wie ek vas en veilig skuil.
2. Tot U, van wie my lofsang is,
roep ek in my benouenis,
en - van my vyand word ek vry!
Want bande van die dood het my
omring en strome van verderf,
wat aanstorm uit die donker wyk
van kuil en graf en doderyk,
met kwellings waar die hart by sterf.
3. Deur donker magte, troep aan troep,
omsingel, het ek uitgeroep;
ek het in doodsangs uitgebteek
en God, my God, om hulp gesmeek.
Hy het geluister, my verhoor:
my stem het luid omhooggerys,
het deurgedring in sy paleis,
en opgeklim tot in sy oor.
4. Toe het die aard' se ingewand,
die berge in hul vaste stand
gebeef, gesidder skrik-verras,
omdat die HERE toornig was.
Rook in sy neus het opgegaan,
vuur wat verteer na alle kant,
het uit sy lippe voortgebrand,
en kolegloed het uitgeslaan.
5. Die hemel het ontsag betuig
en by Gods neervaart neergebuig;
en donkerheid van watervloed,
'n onweersnag was om sy voet.
'n Gerub was sy oorlogswa.
Hy het gevlieg en aangesweef
terwyl dit om Hom skud en beef -
op vleuel van die wind gedra.
6. In duisternis het Hy genaak,
in donker nag wat Hom bewaak:
in waterduisternis alom
en diktes van die wolkkolom.
Deur glanse voor Hom, om Hom heen,
wat gans sy gloriewese-oordek,
het swaar sy wolk verbygetrek
met onweersvuur en haelsteen.
7. Die HEER 't laat dreun die hemel oor,
die hoogste God sy stem laat hoor,
sy stem mét vuur en haelsteen,
die drie tesaam en wild deureen.
Hy het sy pyle uitgestuur
en húl verstrooi wat my beveg,
sy bliksems deur hul heen gevleg
en hul verwar in onheilsuur.
8. In beddings waar die waters loop,
raak rotse tot hul wortels oop.
Die see wyk uit sy stille skoot
en sleep die aard' se grondves bloot.
So 't God die wêreld, stomverbaas,
laat sidder van sy dreigement,
Hom bulderend omlaag gewend
as Hy 'n storm van gramskap blaas.
9. Sy hand het Hy van bo gestrek,
gegryp, uit dieptes my getrek,
my vyande, te sterk vir my,
gebreidel in hul raserny.
Hul 't aangestorm. 'n Dag van nood!
Maar God, my helper, was naby;
in ruimtes is ek uitgelei,
want sy behae-in my was groot.
10. Die HEER het my, trots hul geweld,
na my geregtigheid vergeld;
en na die reinheid van my hand
doen Hy sy woord aan my gestand.
Ek het nie, aan sy stem ontrou,
sy pad verlaat, aan hul gelyk,
wat goddelooslik af wou wyk,
maar het my aan sy spoor gehou.
11. Sy ordening, dié was voor my,
ek het sy woord getrou gebly.
Ek was opreg van hart voor Hom
en wou op onregspad nie kom;
sodat die HEER, sy trou tot prys,
en na die reinheid van my hand,
sy woord gegee het as my pand
en my my reg het toegewys.
12. Barmhartig, vol van derenis,
is U vir wie barmhartig is;
en wie opreg is, U sal hom
ook met opregtheid teëkom.
By hul wat reinheid rein bemin,
hou U, die Heil'ge, U ook rein;
maar vir wie leef in valse skyn,
is U ook self verkeerd van sin.
13. Die HEER verlig die harde juk
van wie hier sug in leed en druk;
maar Hy verneder dié wat hoog
en ydel is van hart en oog.
My lamp brand in die donker uur;
God het my donker opgeklaar!
Met God storm ek 'n leërskaar
en met Hom spring ek oor 'n muur!
14. Gods weg is gans volmaak soos Hy,
sy woord van al wat smet is, vry,
soos goud, gelouter sewe maal.
Hy is 'n skild van keurmetaal
vir almal wat op Hom vertrou.
Want wie's daar buiten U, o HEER!
U is die Rots, geen ander meer,
op wie ons altyd weer kan bou.
15. God het met krag my aangegord;
deur Hom 't my weg gelyk geword.
Hy laat my voete op dié baan
so maklik soos die herte gaan,
en lei my na die hoogtes dan
van seëpraal en heerskappy;
my hande leer Hy om te stry,
dat ek 'n koperboog kan span.
16. Die skild van redding gee U my,
u regterhand was my naby;
u goedheid het tot my genaak
en my uit kleinheid groot gemaak.
My voet was deur u guns weer vry,
my enkels het my nie gefaal;
ek het my vyand ingehaal,
verdelg, geeneen het oorgebly.
17. Ek het hul gans en al verslaan,
van hul 't geeneen weer opgestaan.
U het my aangegord met moed,
gestruikel het hul voor my voet.
My teëstanders het geval,
U het my vyand weg laat vlug;
vir haters was ek so gedug
dat hul verslaan is, gans en al.
18. Hul het geroep, geen hulp gekry,
ook tot die HEER - Hy't stilgebly.
Toe het ek hul vergruis, verjaag,
soos straatslyk hulle weggevaag.
God red my as my dienaars twis,
en maak dat uit die heidendom
die nasies na my voetbank kom
en aan my onderdanig is.
19. Hul was gehoorsaam as hul oor
net van my roem en dade hoor.
Hul het al kruipende gekom;
uit vestings skuif hul kragt'loos, krom.
Die HERE leef! Lof aan my Rots!
Die HEER, my heil, sy groot gemaak!
Hy gee my op my vyand wraak
en breek die volke in hul trots.
20. U wat my red, my hoog verhef,
die vyand fnuik, tiranne tref -
U wil ek loof, U singend eer,
U by die nasies groot maak, HEER,
en U vir groot verlossings prys!
Aan u gesalfde-is guns bewys,
aan Dawid en sy nageslag:
U sy die eer en roem en krag!