1. Die HEER is groot waar Sions top
hom wentel uit die dieptes op.
Hy is lofwaardig, waar verhewe
die berg en stad in songlans bewe,
en Sion teen die noorde
blink, bó die lof van woorde.
Daar waar in vlekkelose wit
die Koning van die wêreld sit,
het Hy, wat teen die vyand waak,
as rotsburg Hom bekend gemaak.
2. Die konings van die heidendom
het met hul leërs aangekom,
die aanvalsmag wat hul gekeur het.
Maar nou? Hul weet nie wat gebeur het -
plots kom oor hul verbasing,
verskrikking en verdwasing.
Die helde deins verward terug,
'n oomblik - en hul 't weggevlug!
En Sion, rotsburg van die HEER,
blink in sy oue glorie weer.
3. Soos een wat beef in moedersmart,
so raak hul daar verskrik, verward.
Die God van mag, van kragbewyse,
verbreek die skepe, pragpaleise
van Tarsis: oseane
spring op voor sy orkane!
Soos ons gehoor het, sien ons oog:
Die HERE Sebaot rys hoog!
Hy sal sy stad, die mens ten spyt,
bevestig tot in ewigheid.
4. Ons wil, o HEER, wat redding skenk,
aan al u goedheid bly gedenk
as ons tesaam is in u woning.
Net soos u Naam is, grote Koning,
so is u glansverskyning:
die vyand se verdwyning
word aan die volkere bekend
tot by die aard' se verste end.
U hand wat nooit die kwaad gedoog,
rys vol geregtigheid omhoog.
5. Laat Sions berg weerklink van vreug!
Laat Juda's dogters hul verheug,
omdat Gods oordeel hul verbly het -
dié oordeel wat sy volk bevry het.
Aanskou die stad met skanse,
paleise, toringtranse -
hoedat hul pryk met nuwe prag.
En meld dit aan die jong geslag:
Die God is ons God, en Hy
sal tot die dood toe ons gelei.