Psalm 79
1. Die heid'ne het gekom, 'n woeste hoop,
U erfdeel, HEER, geweldig neergeloop,
U heiligdom se heiligheid geskend,
Jerusalem tot puinhoop omgewend.
2. Die lyke van u knegte lê verstrooi,
hul vlees aan al wat skeur en aas ten prooi.
Daar's bloed soos water om die stad gestort;
en niemand wat daar meer begrawe word.
3. Vir al ons bure is ons nou 'n smaad,
'n spot en skimp van almal wat ons haat.
Hoe lank sal nog u toorngloed oor ons duur?
U ywer, HEER, nog oor ons brand soos vuur?
4. Stort uit u toorn op wie u Naam nie ag,
op konings wat U hoon in u gesag;
want hul het Jakobs erfland opgeteer,
sy woning is vir ons geen woning meer.
5. Gedenk die kwaad, deur ons gedaan, nie meer.
Ons euweldaad wil ons vergeef, o HEER!
En maak u volk wat nou, verswak, moet ly,
deur u gena weer van die skuldstraf vry.
6. Ons vra dit nie om ons verdienste, nee;
maar om u Naam die hoogste eer te gee;
en dat die vyand nooit met ons mag spot:
"Wie is die HEER? En waar is nou hul God?"
7. Laat ons, laat hul wat ons os swaar laat boet,
aanskou die wraak oor die vergote bloed.
Laat die gesug van wie in bande is,
tog voor U kom uit hul gevangenis.
8. Die kind des doods - wil U oor hom erbarm,
en red hom deur die grootheid van u arm.
Vergeld ons bure sewevoudig weer
die smaad waarmee hul U gesmaad het, HEER!
9. Dan sal u volk, u eie kudde weer,
wat U wou lei en deur u staf regeer -
dan sal ons sing tot in die nageslag
van u vermoë en onverwinb're krag.