Psalm 88
1. Ek roep tot U, o God,
op wie my hoop bly staan,
't sy dat die blye son oor my
of op- of ondergaan.
2. As ek my bede bid,
en 't opklim in u oor -
ag, sluit dan nie u hart vir my,
maar wil my smeking hoor!
3. My siel is sat en siek,
so klaag en kerm ek nou;
dit is of ek hier voor my oog
die dood alreeds aanskou.
4. Ek word getel by die
wat in die graf verdwyn.
Ek voel my nietig, sonder krag,
en hoe 'k in onmag kwyn.
5. 'n Swaard-deurboorde is ek,
deur U welhaas vergeet;
'n dooie in die graf alleen,
waar niemand meer van weet;
6. 'n dooie in wie daar nou
geen lewenshoop meer is,
wat in die see verdronke lê
in diepe duisternis.
7. U grimmigheid rus swaar
op my ellende, HEER!
U golwe staan op, ry aan ry,
en druk my dieper neer.
8. My vriende, hulle wat
my vriende was weleer,
hul vlug uit afsku weg van my
en is geen vriende meer.
9. Soos 'n gevangene,
so is ek ingesluit;
my oog versmag in my ellend';
ek kom daar nie weer uit.
10. Maar nou, o HEER, my God,
verhef ek in geklag
smekend my hande na omhoog
en roep die ganse dag.
11. Kan U die mens weer wek
wat al vergaan tot stof
Of kan 'n skim voor U verrys
en psalmsing tot u lof?
12. Sal hulle in die graf
u goedheid kan vereer? -
u trou daar in die donker plek,
waar die verderf verteer?
13. Word ooit u wondermag
bekend in duisternis?
Word u geregtigheid herdenk,
waar geen gedagte is?
14. Maar ek, o HEER, ek roep,
ek swyg nie met hul mee;
en in die vroeë môre kom
my smeekstem U al teë.
15. Waarom dan, HEER, verstoot
U sonder medely?
Waarom verberg U langer dan
u aangesig vir my?
16. Vanaf my vroegste jeug
is ek verdruk gewees;
en altyd het ek ramp verduur,
of altyd ramp gevrees.
17. U toorn verskrik my, HEER,
en raadloos sien ek hoe
dit soos 'n vloed van waters kom
al nader na my toe.
18. Die waters rol om my,
ombruis my al geheel,
omsingel my in hoë vloed
en reik tot aan my keel.
19. U 't vriend en metgesel
verwyder ver van my;
bekendes - hul is almal weg,
en duisternis - naby!