Skrifberyming 22
1. Troos, troos my volk, sê God die HERE;
dreig nou nie meer met oordeelstem,
genees die wond, o sienerherder,
die hartseer van Jerusalem.
2. Vertel haar dat haar stryd verby is,
haar skuld vereffen is geheel,
dat sy ontvang het uit my hande
vir al haar sonde 'n dubbel deel.
3. Daar ruis 'n roep: Baan vir die HERE
'n weg waar nou net woestheid is;
en maak vir onse God al verder
'n grootpad in die wildernis.
4. Laat elke dal rys uit die diepte,
en elke berg en heuwel wyk.
Die bulte - laat hul wees 'n vlakte,
en maak die skurwe plek gelyk.
5. Want kyk, Gods heerlikheid verskyn weer,
en alle vlees sal dit aanskou.
Die HEER self het die Woord verkondig,
en as Hy spreek, wie sal 't weerhou?
6. 'n Stem sê: Roep! - Wat moet ek melde? -
En ruisend-ver die antwoord kom:
dat alle vlees hier enkel gras is,
en al sy goedheid net 'n blom.
7. Die gras verdor, die blom verwelk weer
wanneer dit oor die velde raas:
wanneer die asem van die Here,
die winterstormwind daar oor blaas.
8. Voorwaar, die mens is maar 'n stengel,
'n grasspriet wat verdor, vergaan,
'n blom wat wegwelk uit die velde.
Alleen die Woord van God bly staan.
9. Klim op 'n berg, o vreugdebode,
o Sion, en verhef jou stem!
Verhef dit hoog en vrees nie langer,
roep uit met vreug, Jerusalem!
10. Meld die verwoeste dogter-stede:
Hier is jul God! Die sterke is Hy!
Al voor Hom uit gaan sy beloning,
sy hoë arm voer heerskappy.
11. Hy lei sy kudde soos 'n herder,
die lammers sluimer in sy arm,
die lammerooie dryf Hy saggies -
oor almal sal Hy Hom erbarm!