Skrifberyming 31
1. Toe sien ek teen die bloue vert'
'n ruiter op sy haelwit perd;
en 't was om Hom stormagtig,
want Hy, die ruiter, voer sy stryd
en oordeel in geregtigheid;
sy Naam is: Trou, Waaragtig.
Sy oog is soos 'n vlam van vuur,
sy krone skitter in die uur
van langverwagte oorwinning.
Sy Naam, diep met sy wese een,
deurgrond geen mens, net Hy alleen
in held're selfbesinning.
2. Die kleed vol bloed vertel sy roem.
Die Naam waarmee sy volk Hom noem,
is "Woord van God". 'n Skare
van ruiters volg Hom op die voet,
hul nader soos 'n watervloed,
soos bruising van die bare.
'n Hemelleër, skitterwit,
hul is dit wat in streng gelid
saam met Hom uitgetrek het.
En uit sy mond het uitgegaan
'n swaard waarmee Hy nasies slaan
wat, trots sy toorn gewek het.
3. Hy sal nou met 'n ysterstaf
sy vonnis oor hul, streng en straf,
met oordeelsdaad bekragtig.
Hy trap die parskuip met sy voet,
en bring oor hul in volle gloed
die toorn van God almagtig.
En op sy kleed met bloed geverf,
en op sy heup wat heil verwerf,
staan daar 'n Naam der ere:
dié oorlog het die pleit beslis
dat Hy die "Hoogste Koning" is,
die "Heer van alle here"!