Die VGKSA is Gereformeerde kerke. Dit beteken dat ons in alle opsigte begeer om volgens die Heilige Skrif te leef, en dit as die betroubare en gesaghebbende Woord van God aanvaar. Ons streef daarna om Christelike lering en leefstyl te koester, en aanvaar dus die opsomming van die Heilige Skrif soos saamgevat in die geloofsbelydenisse van die ou Christelike Kerk:
Verder aanvaar die VGKSA die Gereformeerde standaarde wat uit die 16de eeu dateer. Gedurende daardie tyd het die Gereformeerde kerke in Europa teruggekeer na die Woord van God en sy lering, soos saamgevat in die volgende dokumente:
Wanneer hulle hul geloof in die openbaar bely, verklaar lidmate dat hulle die lering van die Heilige Skrif soos dit in die Christelike kerk geleer word aanvaar, en belowe hulle om vir die res van hul lewe by hierdie lering te hou.
Alle ampsdraers in die VGKSA word verplig om hul aanvaarding van die belydenisskrifte te verklaar deur ‘n ondertekeningsformulier te teken. Hiermee belowe hulle om slegs dit te leer wat in ooreenstemming is met die Gereformeerde grondslag van die kerke. Hulle belowe ook dat, indien hulle ‘n beskouing ontwikkel wat hiervan afwyk, hulle dit nie sal bevorder nie, maar eers aan die kerkraad sal voorlê vir evaluering. Die verbreking van hierdie belofte sal tot kerklike tug lei.
Kerkorde
Die VGKSA reël hul samewerking volgens die kerkorde wat oorspronklik deur die Gereformeerde Kerke in Nederland by die Nasionale Sinode van Dordrecht in 1618/1619 aanvaar is.
Hierdie Kerkorde is gegrond op die uitgangspunt dat die plaaslike kerk nie bloot ‘n tak van die nasionale kerk is nie, maar dat dit selfregerend is met geen ander gesag bo hom buiten die Koning van die kerk, Jesus Christus, nie. Terselfdertyd bind hierdie band met Christus ook die onderskeie kerke saam, wat hulle verplig om ‘n band met mekaar te handhaaf. Hierdie kerkverband is gegrond op die eenheid van dieselfde geloof. Gemeentes wat in ‘n kerkverband saamgebind is, bemoedig en beskerm mekaar sodat die band met Christus en sy Heilige Woord nie bedreig word nie. Die onderlinge ooreenkomste van die kerkverband word in die Kerkorde vasgelê.
Liturgie
Die liturgie wat in die eredienste van die VGKSA gebruik word, is in die tradisie van die Calvinistiese Reformasie.
Die kerke maak gebruik van Afrikaanse Psalms soos saamgestel deur Totius, asook 50 Skrifberymings wat in dieselfde boek gevind kan word. Hierdie lofprysingsboek bevat ook die liturgiese formuliere (bv. vir die bediening van die doop, die viering van die Heilige Nagmaal, die bevestiging van huwelike, ens.). Ander lofliedere, in Engels en Sotho, kan ook in die kerkverband gehoor word.
Eredienste
Aanbidding beteken om waarde of plegtige respek aan iemand of iets toe te skryf. Ware aanbidding is egter ook ‘n saak van die hart – dit moet gevoel word. Dit kan nie ritualisties of blote gewoonte wees nie. Ware aanbidding is ‘n opregte uitdrukking van liefde, verering, bewondering, fassinering, verwondering en viering. Aanbidding staan sentraal in ons lewe met mekaar – dit is die hartklop van die kerk. Dit is meer as net die prediking – dit is die sigbare familie van God, die liggaam van Christus, die tempel van die Heilige Gees, wat in eenheid saamkom om met God te vergader. In aanbidding kyk ons na bo en ons sien die glorie, heiligheid en liefde van God. Ons kyk na binne en sien ons eie gebrokenheid en nood vir God, en dit lei tot ‘n reaksie na buite wanneer ons die koninkryk van God na die wêreld bring.
Die aanbidding van God moet gegrond wees op spesifieke aanwysings in die Skrif. In die VGKSA doen ons slegs dit wat in die Skrif beveel word, naamlik: lees (1 Timótheüs 4:13); prediking (2 Timótheüs 4:2); sing (Efesiërs 5:19); gebed (Matthéüs 21:13); doop (Matthéüs 28:19; Handelinge 2:38-39), en die Heilige Nagmaal (1 Korinthiërs 11:23-26).
Ons eredienste is ‘n verbondsgesprek tussen God en sy volk. God praat en sy volk reageer deur sang en gebed.
Nagmaal
Die Nagmaal is ‘n maaltyd wat deur ons Here ingestel is (Lukas 22:18-20). Dit is sy tafel, nie ons tafel nie. Hy nooi almal wat in Hom glo, om by die tafel aan te sit en te eet. Omdat dit ‘n verbondsmaaltyd in gemeenskap met Jesus is, vereis ons dat almal wat aan die nagmaal deelneem wat van ‘n ander kerk afkomstig is, ‘n attestaat saambring of dat iemand in die kerk kan getuig dat hulle inderdaad in die Here Jesus Christus glo. Die ouderlinge dra die verantwoordelikheid om die tafel suiwer te hou.
Doop
Die doop word vereis vir lidmaatskap aan die kerk van Jesus Christus. Dit is die simbool van die afsterwe van die ou sondige self en die begin van ‘n nuwe lewe in Christus. God is die God van die verbond wat met Abraham, Isak en Jakob opgerig is. Hy werk deur gesinne – só bly Hy getrou aan sy verbondsbeloftes, wat ook vir die kinders van alle gelowiges geld. Om hierdie rede behoort kinders van gelowige ouers gedoop te word.
Vir besonderhede oor eredienstye, sien die afdeling ‘Kerke’ op die webblad.
Geestelike leiding
Ouderlinge: Ons glo God het ouderlinge aan sy kerk gegee om sy kudde te lei en op te pas, asook om begaafdes vir die bediening op te lei. Om dit te fasiliteer, is die gemeente in wyke, of mini-families, opgedeel (1 Petrus 5:1-4).
Diakens: Ons glo God het diakens aangestel om seker te maak dat daar in behoeftes voorsien word (finansieel, emosioneel, geestelik of liggaamlik). Hulle moedig lidmate aan om hul gawes in diens van ons Koning en tot voordeel van ons naaste te gebruik en te ontwikkel. Die diakens is die hande en die voete van die ouderlinge se lering (Handelinge 6:1-7).
Wyke/Huisbesoeke: Die ouderlinge en diakens is aangestel om die lidmate in die wyk wat aan hul toegewys is, te lei. Die wyksouderling sal jou ten minste een keer per jaar besoek om jou op jou geloofspad aan te moedig. Die diaken sal jou ten minste een keer in twee jaar besoek om vas te stel of daar enige behoeftes is en om jou aan te moedig om jou gawes tot voordeel van Christus aan te wend. Hierin volg ons die voorbeeld van die vroeë kerk (Handelinge 20:20). Die doel van wyke is om onderlinge gemeenskap te bou en die geleentheid te bied om mekaar spesifiek te help.
Tug: Ons glo die Bybel leer ons duidelik dat die Kerk van Christus heilig is, en dit is die ouderling se verantwoordelikheid om die gemeente suiwer te hou. Indien moedswillige sonde voorkom en die persoon nie bereid is om hom/haar te bekeer nie, het die ouderlinge van die kerk die ernstige verantwoordelikheid om die lidmaat buite die gemeente te plaas totdat die persoon hom/haar bekeer en na Christus draai vir vergifnis (Matthéüs 16:19 en 18:15-20; 1 Korinthiërs 5).